geslagsregister_1883-1899.pdf | |
File Size: | 13203 kb |
File Type: |
1936_feesbundel.pdf | |
File Size: | 31125 kb |
File Type: |
Bart en Lenie Viljoen, een van twee egpare wat as die “stamouers” van die Gereformeerde Kerk Postmasburg beskou word.
Piet (Petrus Jacobus) en Tryna Venter (Catharina Jacoba Herholdt), die ander twee baanbrekers van die gemeente, en hul gesin.
Ek (PJV) veronderstel die kinders soos volg- langste seun agter is Albertus Johannes Venter (gebore 13/11/1870), seuntjie heel links is Stephanus Nicolaas Venter (gebore 24/1/1876), ... heel regs is Jan Andries Venter (gebore 28/12/1877)(ds Petrus se oupagrootjie) en dogtertjie heel voor tussen die ouerpaar is Johanna Cornelia Venter (gebore 29/5/1882). (Sy is later getroud met Andries Johannes v/d Walt, wat haar die moeder maak van die latere br Nic v/d Walt - so ook die grootmoeder van br Dries v/d Walt en oor-grootmoeder van br Dries se kinders? 'n Latere foto van Piet en Tryna Venter met die gesin nog verder uitgebrei ... Hier veronderstel ek (PJV) die kinders soos volg - Heel agter is weer Jan Andries Venter en regs van hom Johanna Cornelia soos reeds in vorige foto beskryf ... Tussen die ouerpaar staan Mechiel Venter (latere vader van o.a Piet "Krulkop" en ook dr Mechiel Venter wat predikant in die GKSA was ... Langs hulle moeder staan Susara Aletta Margaretha Venter - later getroud met Theodoris Antoni Louis Scribante - die Scribantes wat ook in die bou van huidige kerkgebou baie gehelp het ... hy word selfs "boumeester" van die kerk genoem ... heel voor staan Jacobus Johannes Venter (oom Kootjie) later getroud met Martha Maria Bester en dan die jongste seuntjie op sy moeder se skoot is Pieter Venter (gebore 12/8/1895) die vader van o.a. "Witpiet" Venter, oud skoolhoof en wat met navorsiong rondom die geskiedenis van die gemeente dikwels behulpsaam was ...
|
"...hy het Matsap tot 'n dopper-lokasie gemaak ... "Die stamvaders van hierdie gemeente was Albertus Johannes Viljoen en sy vrou, Helena Susanna Elizabeth (gebore Myberg), en Petrus Jacobus Venter en sy vrou, Catherina Jakoba Herholdt. A.J. Viljoen het in 1877 sy ontslag as diaken in die gemeente van Philipstown aangevra en het Desembermaand van dieselfde jaar daar weggetrek na Rietput, tans Strydenburg. Toe hy van Philipstown vertrek, was die messelwerk van die teenwoordige kerkgebou klaar en moes ’n begin met die timmerasie gemaak word. Met sy afskeid van die gemeente is hy soos gebruiklik deur die voorsitter van die kerkraad van Philipstown, wyle prof. Jan Lion Cachet, wat toe daar predikant was, bedank. In die bedanking is met erns en nadruk die volgende wens uitgespreek:
Hierdie profetiese wens is bewaarheid geword. Sy familie het toe bestaan uit ’n twaalftal, 8 seuns en 2 dogters. In 1879 het hy toe vertrek na Jagpan en in 1880 na Swemkuil op die wal van Grootrivier. Gedurende sy omswerwing in die distrik Hopetown is hy twee maal deur ds. Cachet besoek.Omdat die land noord van Grootrivier nog aan die Griekwas behoort het, wou hy toe nog nie intrek nie, al het daar toe al blanke families in Griekwaland gewoon, want dit het hom te gewaagd gelyk met die oog op sy huisgesin om so heeltemal uit bereik van die kerk onder die heidene in te trek. Dit was die rede waarom hy eers in 1880 by Swemkuil aangekom het. Nog in dieselfde jaar het hy op ’n smoustog met meel die hele suidelike deel van Griekwaland-Wes verken en die land het hom baie goed beval. In 1881 het die eerste opvolger daar aangesluit. Dit was Petrus Jacobus Venter en sy familie. Hy was kerkraadslid in Philipstown en het daar weggetrek om ruimte vir sy familie te soek. Hy het eerste die rivier oorgesteek en op die duskantste wal in die nuwe land sy tent kom opslaan. Die verkeer tussen die twee families is in standgehou deur middel van ’n vlot van droë wilgerstompe gemaak. Op ’n sekere dag het Piet Venter die land 2 uur te perd ver ingekom om dit te besien. Hy het op ’n plaas aangekom. Die man was nie tuis nie; net sy vrou. Hy het toe aan haar die deel van sy reis vertel: Hy gekom om na die land te kyk. want hy is van plan om verder in die wêreld in te trek. Die vrou antwoord hom toe: “Ja, neef, die land is groot en wyd en goed, maar op Swemkuil, verstaan ek, is Doppers wat ook hiernatoe wil intrek en ek het gehoor dat hulle so ’n koddige soort mense is.” “Niggie, ek is een van hulle,” het hy toe daarop geantwoord. “Dit glo ek nie!” het sy verskrik uitgeroep. Sy het toe beleefd ekskuus gevra, want volgens gerugte het sy haar glad ’n ander voorstelling van die mense gemaak. Met sy eerste besoek in hierdie wêreld het A.J. Viljoen die plaas Swartkop (toe Vaalwater) gesien. Toe hy hoor dat die plaas te koop was, het hy aan Piet Venter kennisgegee dat hy van plan is om daarheen te gaan. Hy en sy seun Jan (J.J. Viljoen) en P. Venter het die tog daarheen met kar en perde gemaak. Hy het Swartkop gekoop en P. Venter Droëkloof. Hulle is toe dadelik terug om die trekke te gaan haal. Die Venter-trek het toe bestaan uit ses lidmate en vier dooplidmate. Die mees bewoonde streek in daardie dae was die lope van Kirkisen en Blinkklip – so genoem na die glinsterende yster kwarts wat die Griekwas in die onderaardse grot by die Gatkoppie uitgehaal het. Blinkklip was toe nog ’n lokasie. Aan die begin het die mense in tente gestaan. Die eerste woonhuise was klein. Die wêreld was woes, behalwe langs die loop waar die Griekwas krale gehad het. Tussen Blinkklip en die lyn van Betsjoeanaland was net die huisie en put van R. Turner, verder was die land nog onbewoond. Ongediertes, soos tiers, wolwe, jakhalse en wildehonde, het die veediere verskeur. Wild, soos springbokke, koedoes, hartbeeste, het volop sports, biltong en geurige spyse vir die tafel verskaf. Die eerste woning van A.J. Viljoen was ’n tent. ’n Halfuur ver moes hy water aanry vir gebruik. Hierdie gesukkel het meer as ’n jaar aangehou eer hy water genoeg gekry het vir die boerdery. Sulke moeilikhede het die eerste intrekkers baie ondervind. P.J. Venter was gelukkiger, Droëkloof het oop water gehad en hy kon dadelik begin bou. In die tussentyd het ook Sarel Venter (Bosaar), Jakobus Coetzee (ou Oom Koos) met ’n paar ander gesinne ingetrek, toe is ook ontdek dat op Wietspan ’n familie Johannes van der Linde van die Geref. Kerk woon. Die eerste kerk in Griekwaland-Wes was belê op Droëkloof. Daar het 20 lidmate bymekaargekom en geluister na die blyde hemelse klanke van die eerste evangelieprediking in Griekwaland-Wes van ’n Gereformeerde predikant, ds. Cachet. Sy vertroostende, bemoedigende en vermanende woorde het soos druppels, as die reën te lank weggebly het, in die uitgedorde akkers van die harte ingesink. Daar het die psalms, gebede en die trane van aandoening (want die stem van ’n predikant was lank, lank laas gehoor), die nog onbewoonde Griekwaland-Wes gewys vir ’n nuwe arbeidsveld vir die Gereformeerde Kerk. Met die tweede koms van ds. Cachet hierheen is die eerste vier kinders gedoop en het die volgende belydenis gedoen: Lambertus en Albertus Viljoen, Jan en Cecilia Venter. Toe is ook A.J. en P.J. Venter aangestel as ’n kommissie om hier kerksake te behartig. Die derde maal het ds. L.J. du Plesssis ’n besoek aan die lidmate van Griekwaland gebring. Saterdagaand het sy Eerw. gespreek oor die ontmoeting van Moses en sy skoonvader, Jethro. “En sy vraagden de een den ander naar den welstand en gingen naar de tent.” In die tussentyd het nog verskeie families van Philipstown hierheen gekom. Vir dié intrekkers moes voorsiening gemaak word vir voorlopige staanplek. Die enigste geskikte plek was Matsap. Omdat die huurder die mense, nieteenstaande die vergoeding wat hulle moes betaal, baie sleg behandel het, het A. J. Viljoen toe die plaas, om die mense te beskerm, gaan huur. Daar het soms 8 tot 10 trekke gestaan. Dit het die eerste huurder so misnoeg dat hy aan die hekpaal van ’n takkraal ’n plakkaat opgehang het met die volgende woorde: A.J. Viljoen is die Voorduiwel van die doppers; hy het Matsap tot ’n dopper-lokasie gemaak. In 1883 is deur A. J. Viljoen en P. J. Venter by die Algemene Vergadering aansoek gedoen om die lidmate in Griekwaland-Wes tot ’n gemeente te stig. Tot kommissie vir die stigting is benoem ds. Cachet en twee kerkraadslede van Philipstown, Ds. L.J. du Plessis en twee kerkraadslede van Colesberg: Met die kommissie het nog verskeie vriende en bekendes saamgekom. Die stigting het op Swartkop onder gespanne bokseile plaasgevind. Daar het die afgevaardigdes van die Algemene Vergadering met die gemeentelede saam vergader op 14 Julie l883. Die voorsitter, ds. Cachet, het die vergadering geopen en toe ’n rede gehou oor Ps. 105 : 8, 9:
Sewe en veertig belydende lidmate is ingeskrywe, en tot ouderlinge is gekies A.J. Viljoen en P.J. Venter; tot diakens S.J. Venter, W. Sn. en P.C. Viljoen. Na die verkiesing verklaar die voorsitter die gemeente vir gestig en ds. du Plessis spreek ’n woord oor Ps. 32 : 8 (die laaste gedeelte): “Ik zal raad geven; Mijn oog sal op u zijn.” Vereers sou die naam wees: Die Gereformeerde Gemeente van Grikwaland-Wes. Eers was besluit om ’n kerkgebou op Swartkop op te trek, maar hierdie plan is nie uitgevoer nie weens die vertrek van ouderling Viljoen na Ploegfontein. Daar is die eerste kerk gebou tot tyd en wyl ’n plek vir ’n dorp aangewys sou word. Tot sover was daar nog geen skole nie. Die seuns het die vader in die boerdery gehelp en dogters die moeder in die huis. Agter die vee moes die wagtertjies hulle Kortbegrip-vraeboek en Bybel saamneem, en die dogters moes ook in die huis tyd maak om vrae en Bybelgeskeidenis te leer. In die aand, al was dit ’n dag van vermoeiende arbeid –moes die kinders om die groot tafel vergader met hulle Trap-der-jeug A.B.C. boekies, Kortbegrippe en Bybels, en Pa is skoolmeester. Eers op Ploegfontein het meester L. P. Steyn (sien foto) met nog nie 20 kinders ’n skool in die kerkgebou geopen. Meester LP (oom Louw) Steyn was die eerste onderwyser in die gemeente
Stoflik deur die oorlog uitgeroeiDie eerste Gereformeerde gemeente in Griekwaland-Wes is ná verskeie besoeke deur van ds. Jan Lion Cachet, destyds leraar van Philipstown, op Saterdag 14 Julie 1883 onder bokseile op die plaas Vaalwater (of Zwartkop) met 47 belydende lidmate gestig. Dit het oorspronklik as “Grikwaland West” bekendgestaan. Twee jaar later is op die plaas Ploegfontein van oudl. A.J. Viljoen ’n kerk en skool gebou. In 1888 is ’n boukommissie aangewys en in 1890 het die kerkraad besluit om ’n voorlopige kerkgebou op te rig op Blinkklip, nadat die regering dit as dorp uitgegee en twee erwe aan die Gereformeerde kerk geskenk het. Blinkklip se naam is in 1892 na Postmasburg verander ter nagedagtenis aan ds. Dirk Postma, die Gereformeerde Kerk se eerste leraar, wat in 1890 oorlede is. Eers in 1895 is prop. J. A. (Koos) van Rooy tot die gemeente se eerste herder en leraar beroep. Gedurende die driejarige verblyf van ds. Van Rooy het sake verbeter. Die getal skoolkinders het vermeerder. Aan die sending is meer as vroeër gedoen. Daarvoor is gekollekteer in die gemeente en die leraar het soveel moontlik elke Sondagaand vir bruin en swart mense gepreek. Uit die bedanking van die kerkraad aan ds. Van Rooy blyk hoe seer sy dienste gewaardeer is. Met die uitbreek van die oorlog 1899 het ook Griekwaland-Wes hom aan die kant van die Boererepublieke geskaar en hierin het byna die hele gemeente deelgeneem. Onder kmdt. Jan Vorster en later onder die onverskrokke kmdt. Koot Kruger het ’n aansienlike mag tot op die bitter einde toe geveg. Die oorlog het verwoes. Plase is verplunder en verniel, vee vernietig, vroue en kinders na die konsentrasiekampe gestuur, mans het in ballingskap gegaan en is as rebelle beboet en met die tronk gestraf. Die laaste kerkbyeenkoms voor die oorlog was in September 1899 en die volgende keer eers weer in Oktober 1902. Met hierdie besoek van die konsulent, ds. Taetse Hamersma, is 48 kinders gedoop. In die doopregister staan aangeteken:
In die notule van die kerkraad staan die volgende: “De B.B. ouderlingen P. Venter, G. van der Walt, J.J. Viljoen en diaken P.J. Snyman (van Nek) zyn niet tegenwoordig omdat zy wegens hoogverraad (nl. het helpen van Republieken in den oorlog tegen Engeland) in de gevangenis zitten. Meer as twee jaar lank was hier dus geen bediening van Woord en Sakramente deur ’n leraar nie. Tog is die oefeninge deur oom Berend van der Walt getrou waargeneem. Net een Sondag kon sy forse stem in die kerk nie weergalm nie omdat die Engelse kommandant gedreig het om die kerk vol swartgoet (sic) te stop. Stoflik is die gemeente deur die oorlog uitgeroei. Almal moes feitlik weer begin. Maar met die seën van die. Here het die vooruitgang gekom. Deur die bekwame leiding van ds. Hamersma is die gemeente gesterk en opgebou in die geloof. In 1904 is besluit tot die bou van nuwe kerk. Dié pragtige, soliede jonasklipkerk, ’n sieraad, is in 1908 ingewy. Die boumeester was T. A. Scribante, lid van die gemeente. In 1911 is ds. J.H. Kruger hierheen beroep en in Oktobermaand bevestig. Toe die gemeente sy eerste halfeeu in 1933 vier, is ds. Kruger se 25-jarige terselfdertyd gevier. Die gemeente was destyds baie uitgestrek. Ná die Boere oorlog het die mense Betsjoeanaland binnegetrek. Na die kant van Langberg en Oliphantshoek wat toe nog nie ’n dorp was nie, tot in Koranaberg toe. Ander weer het in die rigting van Kuruman getrek tot aan die Kurumanrivier. Kimberley en Delportshoop het ook onder Postmasburg geval. |