Ds. J.A. (Koos) van Rooy, van 1895 tot 1898 Postmasburg se eerste Gereformeerde leraar.
Dié foto is in 1959 geneem toe hy as 90-jarige die oudste emeritus predikant was op die Kerk se eeufees te Rustenburg. Ds. Koos van Rooy (regs) as jongman, die gemeente se eerste leraar.
Die gemeente was dus herderloos tydens die Driejarige Oorlog. Koos van Rooy in later jare
Ds Koos en Brechtje van Rooy
|
Ds Koos van Rooy (1895-1898)Koos van Rooy was ’n seun van die Nederlandse immigrant J.C. van Rooy, en dié se Vlaamse vrou, Anne Françoise Holsters. J.C. van Rooy, die stamvader van dié familie in Suid-Afrika, was die jongste kind van Hendrik van Rooy en Clara Kuijpers, albei Rooms-Katolieke. Hy en Anne Holsters is op 21 Maart 1855 getroud. Koos van Rooy se grootouers aan moederskant was Charles Holsters en Petronella de Gilter. Uit dié huwelik is vyf seuns en vyf dogters gebore, van wie die eerste seun in Nederland, die tweede seun ter see (Charles) en die res in Suid-Afrika. Koos was hul sewende kind en jongste seun. Die egpaar Van Rooy het op 24 Oktober 1857met die seilboot Karel August na Suid-Afrika verhuis, waar hulle en hul twee seuntjies Henri en Charles op 26 Januarie 1858 by Port Elizabeth aan wal gestap het. Die gesin het hulle in die Noordoos-Kaap gevestig. J.C. van Rooy, wat uit ’n Katolieke gesin gekom het, het reeds in sy vaderland onder die invloed van 'n onderwyser, ene Quik, en 'n predikant, H. van Andel, 'n Protestant geword en is daar opgelei as onderwyser. In Suid-Afrika was hy 17 jaar lank rondgaande onderwyser aan plaasskole in die distrikte Colesberg, Venterstad, Albert (Burgersdorp), Cradock, Middelburg, Kaap, en Steynsburg. Die gesin het gewoonlik ses maande op 'n plek vertoef, maar soms ook 'n jaar of twee. Hy kon Nederlands en Frans vlot praat en sy Engels was goed. Hy het vroeg reeds aan swak gesondheid gely en hom eindelik op Steynsburg gevestig, waar hy eers onderwyser en later sakeman was. So talryk was sy kindskinders (77), dat toe die Christelik-nasionale skool op Steynsburg op 17 Julie 1905 met 60 leerlinge open, net mooi 'n kwart van hulle kleinkinders van oupa Van Rooy was. Veral sy broers Charles en Jan het groot invloed uitgeoefen op kerklike en maatskaplike gebied. Jan van Rooy is in 1929 benoem tot senator en was ook die teler van die Van Rooy-basterskaap op sy plaas. Van sy vader het Koos van Rooy sy eerste onderwys ontvang en daarmee saam 'n groot liefde en ywer vir die Christelike onderwys; daarom is hy ook op 15-jarige leeftyd na die Teologiese Skool Burgersdorp om hom aldaar as onderwyser te bekwaam. (Dié skool het 'n teologiese sowel as ’n literariese departement gehad.) Ná voltooiing van sy studie as onderwyser, was hy 'n tyd lank hoof van die Christelike skool op Burgersdorp. Hierdie opleiding as onderwyser sou hom later goed te pas kom in die katkisasieklasse. Dit is dus ook te verstane dat hy allerweë as 'n uiters bekwame katkisasiemeester beskou is. Sy onderwysloopbaan sou nie lank duur nie. In die Gereformeerde Kerk was 'n dringende behoefte aan nuwe predikante en ’n beroep is op jong mense gedoen om hulle as predikante te bekwaam. Aan hierdie roepstem het Koos van Rooy gehoor gegee en so is hy terug na die Teologiese Skool Burgersdorp waar hy sy teologiese studie voltooi het onder prof. Jan Lion Cachet, ook ’n Nederlandse immigrant, maar een wat saam met sy hele gesin hulle van die Joodse geloof bekeer en Protestante geword het. Teologiese student Van Rooy is op 14September 1892 op Burgersdorp getroud met Brechtje Postma, die oudste van die ses kinders uit ds. Dirk Postma (wat twee jaar vantevore aldaar oorlede is) se vyfde huwelik, op 20 Desember 1869, met Johanna Wilhelmina van Biljon (24 Mei 1854 – 12 Julie 1901). Koos van Rooy se enigste swaer, ds. Willem (1874–1920), was bekend as die skrywer dr. O'kulis. Sy skoonsuster Laurika Postma (1875–1905) was prof. J.A. du Plessis se eerste vrou. Ná haar dood is hy getroud met Aletta (1876–1957), Brechtje Postma se volgende sibbe. Sy jongste skoonsuster, Maria (1881–1966), was getroud met die digter, psalmberymer, predikant en teoloog Totius. Tien kinders is tussen 1894 en 1907 uit ds. en mev. Van Rooy se huwelik gebore. Die eersteling, Jan Dirk, is op ses maande oorlede, maar al die ander het grootgeword: Johanna (Nan), (later prof.) Dirk Jan (Dirk), Claartje (Kaat), Willem van Biljon (Willem), Anne Francoise (Anne) (genoem na die Van Rooy-stammoeder, Anne Françoise Holsters), (later ds.) Jacobus (Jacs), die tweeling Aletta Jacoba (Lettie) en Martinus Paul (Boet), en Laurika (Riek, ds. David Kotzé se tweede vrou nadat hy vantevore getroud was met 'n dogter van H.C. van Rooy, ds. Van Rooy se broer). Ná aflegging van die proponentseksamen is hy in 1895 na Postmasburg beroep. Daar het hy gearbei tot hy in Mei 1898 na die kombinasie Waterberg-Pietersburg is. Hy was dié gemeentes se eerste vaste leraar en het saam met sy gesin op Nylstroom gewoon. Van 28 Julie 1899 tot 15 November 1902 kon die kerkraad geen vergaderings hou nie weens die Tweede Vryheidsoorlog. Die jong pastoriemoeder moes in die afwesigheid van haar man, wat op kommando was met genl. C.F. Beyers en later op parool in Pretoria, ses klein kindertjies versorg, terwyl die pastorie self in ’n kamphospitaal omskep is. In Julie 1905 het die Van Rooys die gemeente verlaat en verhuis na Bethulie, ds. Van Rooy en derde en laaste werkkring waar hy en sy gesin diep spore sou trap in kerklike kringe, maar ook in wyer verband. |
Ds JH Kruger, predikant in Postmasburg vanaf 1911 tot 1952
Ds JH Kruger as jongman
Ds JH Kruger en sy eggenote Christina en hulle vyf dogters van wie die jongste 'n laat-lammetjie was.
Ds. Kruger in sy uniform toe hy tydens die Tweede Wêreldoorlog veldprediker was
Ds JH Kruger en sy eggenote Christina se grafte op Postmasburg
|
Ds JH Kruger (1911-1952)Ds. Kruger het sy eerste onderwys op sy ouerplaas, Beschuitfontein, en op Venterstad ontvang en matriek in 1899 geslaag. Sy ouers het vanaf 1895 op Heidelberg in die ZAR gewoon en met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog het hy by die Boeremagte aangesluit. (Volgens ’n ander bron was hy op Burgersdorp met die uitbreek van die oorlog en het vriende hom deur die Grootrivier help kom om hierdie doel te bereik.) Hy het deelgeneem aan die veldslae van Colenso en Ladysmith en op 24 Januarie 1900 by die Slag van Spioenkop in Natal gewond. Nadat hy herstel het, het hy by die magte van genl. Christiaan de Wetaangesluit, maar in die verwarring tydens die Slag van Sandrivier (of by Zandfontein) is hy gevang en moes twee jaar as banneling op Ceylon deurbring.
Ná sy terugkeer uit die vreemde is hy aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk op Burgersdorp (1903–'04) en ná die verhuising daarvan na Potchefstroom aldaar van 1905–'06 as predikant opgelei. (Volgens ’n ander bron het hy voor die oorlog op Burgersdorp begin studeer, maar weens ’n geldtekort sy studie onderbreek en eers op Bethal in die ZAR gaan skoolhou om studiegeld te verdien. Ná twee jaar het hy na Burgersdorp teruggekeer om sy studie voort te sit.) Indertyd het sy eerste letterkundige proewe verskyn in Ons Klyntji, die eerste en enigste Afrikaanse tydskrif destyds (1896–1906). In sy studiejare het hy sterk leierseienskappe geopenbaar en was redakteur van die studenteblad Fac et spera. Hy was predikant van die kombinasie Sterkstroom-Molteno tot 1911, toe hy beroep is na Postmasburg. Van 1907 tot 1911 was hy die enigste inwonende leraar in die Gereformeerde kerk Sterkstroom se 115-jarige bestaan. Hy is in 1908 met Cecelia Maria Coetzee getroud en dit was juis na aanleiding van haar skielike dood in 1910 dat ds. Kruger bereid was om van Mei tot Augustus 1911 sowat drie maande lank in Kenia deur te bring om lidmate van die Gereformeerde kerk Eldoret te bedien. Al het hy net drie maande daar gewerk, het hy baanbrekerswerk gedoen en sy siening en ontleding van Afrika-toestande destyds het dekades later nog betrekking gehad, aldus P.H.R. Snyman in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel V. "Hy het onder meer die verskil tussen redding en ondergang gesien in die teenstelling tussen die Christendom en die heidendom; sonder eersgenoemde kom daar niks tereg nie. Volgens Kruger is die Swartes skreiend deur onchristelike magte (die Islam) uitgebuit, terwyl die Europeër niks aan die saak gedoen het nie solank hy goedkoop Swart arbeid kon gebruik." Op Postmasburg sou hy arbei tot hy sy emeritaat in 1952 aanvaar het. Vir die Gereformeerde Kerk in Kaapland noord van die Oranjerivier het toe ’n nuwe tydperk aangebreek, want terwyl die Kerk in 1911 tot net Postmasburg beperk was, het ds. Kruger probeer om dit oor die hele gebied uit te brei. Danksy sy pogings het vyf nuwe gemeentes tussen 1914 en 1949 tot stand gekom, meer as die helfte van dié in die huidige (2016) Klassis Griekwaland-Wes, waarvan Daniëlskuil die laaste was en Delportshoop (ontbind in 2015) die eerste. Die ander drie is Kuruman, Olifantshoek en Kimberley. Hy het ook gereeld die lidmate in die afgeleë Kalahari besoek en in 1921 en 1925 die trekboere by Ghanzi in Betsjoeanaland en in 1937 dié in Suidwes-Afrika gaan bearbei. Dié baanbrekerswerk moes hy meestal met ’n kar en perde oor groot afstande en ’n moeilike terrein verrig. Dit getuig van sy ywer om die evangelie uit te dra. In die Tweede Wêreldoorlog het hy as veldprediker onder die Suid-Afrikaanse magte diens gedoen, moontlik saam met ds. Derk Rumpff die enigste leraar van die Gereformeerde Kerk wat in dié hoedanigheid opgetree het. Op Postmasburg het ds. Kruger die leiding op sosiaal-kulturele gebied geneem in die totstandkoming van 'n kerkkoor, Geloftefeeskomitee en privaat hospitaal, terwyl hy ook lank in die skoolkomitee en hospitaalraad gedien het. As predikant het hy in talle sinodale deputasies gedien, onder meer dié vir liturgie, kerkorde, psalmberyming, katkisasie en maatskaplike vraagstukke. Tussen 1941 en 1946 was hy kurator van die Teologiese Skool op Potchefstroom. P.H.R Snyman skryf: “(Ds. Kruger) was 'n gewaardeerde, beminde herder, 'n boeiende leraar en as persoon optimisties, behulpsaam en humoristies. Hy het ook belanggestel in sowel die nasionale as die internasionale politiek en het die republikeinse ideaal nagestreef. Tydens die onstuimige jare van die 1914-rebellie het hy 'n versoenende rol gespeel terwyl hy ook geglo het dat die vryheidsideaal net so goed gedien kon word deur die Afrikaner op materiële gebied op te hef.” Hy is in 1908 getroud met Cecilia Maria Coetzee, wat in 1910 oorlede is. Op 25 Junie 1914 het hy op Sterkstroom met Christina (gebore Bingle) getrou. Ná sy aftrede het hy en sy vrou op Postmasburg bly woon. Hy is presies sewe dae voor sy 85ste verjaardag op Postmasburg oorlede. Ds. Kruger het vyf dogters uit sy tweede huwelik gehad. As taalvoorstander het ds. Kruger reeds in 1913 in sy Kerk se Almanak 'n verhaaltjie, Die doornbos koning, in Afrikaans laat verskyn. Hy was 'n vrugbare skrywer, veral op godsdienstige gebied. In Gereformeerde kringe was hy bekend vir sy preke in die meeste preekbundels van Gereformeerde predikante (soos in Uit die Ligbron). Sy artikels wat reeds vroeg in Afrikaans in Die Kerkblad en die Almanak verskyn het – sommige onder die skuilnaam "Oupa" of sy voorletters "J.K." of "J.H.K." – het oor baie jare aandag geniet. Tussen 1926 en 1947 het hy die rubriek "Bybelse ruit" in die Almanak behartig. Snyman meen ds. Kruger se waardevolste bydrae lê op die gebied van die kategetiese onderwys. Hy het 'n uitnemende boekie vir kleiner kinders oor die Heidelbergse Kategismus, getiteld Kategisasie boekie vir die klein kinders van die gelowige, in 1921 geskryf. Dit het as die "Rooi boekie" bekend geword en is voor 1943, toe dit grondig herskryf is, drie keer herdruk. In 1972 het dit die dertiende druk beleef; in 1980 het die eerste druk van die derde hersiene uitgawe wat steeds in gebruik is, verskyn. Tussen 1962 en 1968 is dit in Tswana, Zoeloe, Tsonga en Pedi vertaal om vir sendingwerk gebruik te word. Ds. Kruger het ook Die gids (s.j.), 'n boekie oor die Bybelse geskiedenis, geskryf. Volgens Gerrit Dekker in Afrikaanse literatuurgeskiedenis het ds. Kruger sy tipes dwarsdeur sy werke laat gesels in natuurlike dialoog wat sekere tiperende eienskappe goed openbaar. In 1954 was hy besig met 'n Bybelse drama, Rispa, wat nooit gepubliseer is nie. Twee rampe en twee gelukke verower die tweede prys in die prysvraag van J.H. de Bussy Uitgewers van 1921. In hierdie roman lei die ekonomiese agteruitgang van Bram, die eienaar van die plaas Leeukop, daartoe dat hy geld moet leen van die buurvrou, Anna Smal. Sy wil die geleentheid misbruik deur haar buffelagtige seun Hans met Bram se fynopgevoede dogter Isabella te laat trou. Isabella is egter verlief op Piet Breed wat op die aangrensende plaas Oupos woon, maar haar vader se afhanklike posisie verplig haar om met Hans uit te gaan. Deur tant Anna se slinksheid word die Breeds van hulle huurplaas afgesit, maar eindelik word Piet Breed deur die vrygewigheid van ’n weldoener (Oom Sagrys) in staat gestel om Leeukop te koop. Die roman is in vlot dialoogvorm geskryf, met goeie beskrywing van die karakters se persoonlikhede. Daar word egter weinig aan die leser se vernuf oorgelaat en selfs alledaagse besonderhede word breedvoerig weergegee, sodat die verhaal ietwat traag voortbeweeg. Die figuur van Oom Sagrys is niks meer as ’n deus ex machina om die verhaal bevredigend te laat afloop nie. Die karakters word dan eindelik weinig meer as karikature, maar gemeet teen die werk van sy tydgenote is hierdie roman op sielkundige vlak en ook andersins meer realisties en gestroop van oordrewe sentimentaliteit. Nie een van Die koster en sy vrou en Dawid en Jonathan verwesenlik die belofte wat uit sy debuutwerk blyk nie. Laasgenoemde werk word weinig meer as ’n aaneenskakeling van vervelende gesprekke wat selde of ooit tot dialoog ontwikkel, al word ’n aantal tipiese gesegdes uit die volkstaal opgeteken. Oom Org is Nasionaal en sy boesemvriend Memel, die prokureur, word kandidaat van die Suid-Afrikaanse Party. Die politiek bring verwydering tussen die twee boesemvriende, maar die gewoel agter die skerms en die intriges wat met ’n verkiesingstryd gepaardgaan word nie insiggewend blootgestel nie. |